Wat jy moet weet oor Die Horries

Wat op aarde is ’n Horrie? Dis daai geheime agent wat jou opdraande gee ná ’n aandjie se gefuif.

Die vlymskerp skeppers van dié heerlike Silwerskermfeeskortfilm het tien feite oor Die Horries gedeel:

  • Die idee vir Die Horries is gebore uit ’n werklik horribale horries-episode wat hom in 2014 ná ’n besonder wilde aand by die Silwerskermfees afgespeel het. Die betrokkenes se name word weerhou om hul ouers openbare vernedering te spaar.
  • Die Horries se werkgewer is die Departement van Drankbestuur – ’n plek wat heelwat minder depressing is as Binnelandse Sake.
  • Die hoofrolle word vertolk deur Augusta Zietsman en Schalk Bezuidenhout. Augusta is mal daaroor om te drink en sport te kyk in sulke regte ouballie-sports-bars.
  • Ons het een Vrydagaand vir Augusta op die kroegtoonbank by die Jolly Roger gesien en besluit die rol is perfek vir haar. Schalk is ge-cast omdat ons Die ware naarheid kyk en geweet het hy het ’n nice suit. Die begroting is klein en mens moet spaar waar jy kan. (Dis ’n grappie – Augusta was nooit op die bar counter nie.)
  • Schalk se ergste horries was nadat hy as student een aand by ’n fees die ouens van aKING raakgedrink het. Hy het die volgende dag gevoel hy het sy naam vergat voor Laudo Liebenberg. Dis moeilik om met daardie gevoel saam te leef.
  • Augusta se ergste horries was in 2020 toe Cyril sê “effective immediately” en sy besef al haar wyn is die vorige aand al opgedrink.
  • Die komediant en skrywer Mojak Lehoko vertolk die rol van Die Baas. By Mojak het ons geleer dat dit vreeslik moeilik is om vir nie-Afrikaanssprekendes te verduidelik wat die horries is. Mojak het gereeld “horries” as “hoeries” uitgespreek.
  • Enige groot drinker het ’n drinkebroer of -suster, en vir ons hoofkarakter, Henriëtte, is dit haar woonstelmaat, Elizabeth, vertolk deur Lindsey Abrahams. Elizabeth maak graag interessante konkoksies met kreatiewe name soos Sex on the Peach (gin met perskes), Kerkbasaar (gin met ’n koeksister in) en – ons gunsteling – Star Wors (gin met ’n stewige stuk droëwors).
  • Die Horries is Bibi Slippers se eerste poging as skrywer en regisseur. Sy het voorberei deur elke Vrydagaand ’n rolprent te kyk en te analiseer. Dié wat uitstaan is Punch Drunk Love, Eternal Sunshine of the Spotless Mind en … Armageddon. Dis ook Corné Koegelenberg se eerste kortfilm as vervaardiger. Hy het voorberei deur sy maandelikse begroting met 80% te sny.
  • Daar is geen alkohol tydens verfilming misbruik nie. Sover ons weet het ons kortfilm niemand wat betrokke is, die horries gegee nie.

Maak eerstehands kennis met Die Horries by die Silwerskermfees op Vrydag 25 Maart om 15:00.