Wie is Frankie en Felipé? Bradley en Solomon gesels oor hul komvandaan

Vra mens Bradley Olivier en Solomon Cupido uit oor die Silwerskermfees-speelfilm Frankie en Felipé, besef jy blitsig dié twee talentvolle manne is ’n gedugte span. Of hulle nou kopstukke oor Bradley en Solomon, ene Spacekriek en Dakskroef, of oor Frankie en Felipé gesels.  

Dis amper asof Bradley en Solomon, wat ook medevervaardigers en draaiboekskrywers van Frankie en Felipé is, net soos hul karakters in dié romantiese komedie eens op ’n tyd broers in dieselfde huis was. Hulle praat uit een mond, terg mekaar so bietjie en is boonop skreeusnaaks saam. 

Sodra jy hoor hulle is oud-Paarliete wat mekaar al van hoërskool af ken, maak alles sin. “Ja, dis al van 2001 af. As ons ’n kind gehad het, was die bybie al 22,” skerts Solomon. 

Bradley en Solomon het danksy ’n gemeenskaplike vriend kaalvoet by ’n kerk se jeuggroep ontmoet.  Twee jaar later verwissel aspirant-akteur Solomon toe skole, omdat New Orleans die enigste in die omgewing was wat drama as ‘n vak aangebied het. Raai wie was in sy klas? “En van toe af kon hy my net nie uitlos nie,” terg Bradley. 

Na matriek is die skoolvriende saam na Northlink College, en aan die einde van hul eerste jaar was hulle deel van ’n groep van ses dramastudente wat gekies is om hul studies by die Tshwane Universiteit van Tegnologie te voltooi. 

Intussen het die drama-duo ook twee koddige verhoogkarakters genaamd Spacekriek en Dakskroef geskep, wat vir twintig jaar al gehore by kerke en in skoolsale laat skaterlag. Die bloedbroers en loopbaankamerade was ook saam te sien in ’n boel produksies – van Bakgat 2 en Bakgat 3 tot Binnelanders en die kykNET-storiefilm, Draadloos.  

Met hierdie agtergrond in plek, beantwoord Bradley en Solomon in hul eie woorde ’n klompie vrae oor hul jongste en grootste projek tot op hede, Frankie en Felipé.

 

  • Frankie en Felipé is twee broers wat as kinders geskei is en mekaar later weer onder die vreemdste omstandighede raakloop. Hoe het julle te werk gegaan om dié karakters te skep?

Solomon: “Na ons vennootskap met Spacekriek en Dakskroef was dit vir ons baie maklik om vir Frankie en Felipé te skryf, twee heeltemal verskillende karakters.”

 

  • Vertel ons meer oor die karakters Frankie en Felipé.

Bradley: “Frankie is the guy who made it out of the flats. Hy’s die tipe ou wie se hele identiteit en wêreld om sy girlfriend en verloofde draai, omdat hy ’n orphan sonder familie is. Frankie is ook ’n spanspeler. Hy gee om vir die mense rondom hom, maar sy kwaal is dat hy nie rêrig met sy verlede gedeal het nie.” 

Solomon: “Aan die ander kant is Felipé ’n mama’s boy. Sy ma en pa het hom baie bederf omdat hy hulle enigste kind saam was. Felipé se pa was Frankie se stiefpa. Na sy pa se dood moes Felipé fake perfume verkoop om na sy ma te kon kyk. So, hy is die ou wat nog steeds in die flats bly, maar almal love hom omdat hy so charming is. He’s the guy you want at a party, man.” 

 

  • Hoe verskil julle van jul karakters? 

Bradley: “Ek sweer as die ouens op skool vir ons gekyk het, sou hulle gedink het Solomon sou Frankie speel. Solomon was die golden boy, die cool ou. Ek was die jokey guy en toe ons groter word, het die rolle verander. Nou is Solomon een van die snaakste Suid-Afrikaanse akteurs. Ek het wel baie ander dinge van my lewe in Frankie ingeskryf. So, ek is nader aan Frankie as wat ek van hom verskil. Ongelukkig het ek net nie ’n BMW nie!”

Solomon: “Ek dink my vrou sal sê ek is ’n mama’s boy. Ek dink nie so nie. Soos Felipé, wou ek nog altyd na my ma kyk, omdat sy alleen is en nie baie gesond is nie. Felipé is ook rooted in religion. Dis een van sy cool eienskappe. Hy like ook ’n hoed, nes ek.”  

 

  • Brett Michael Innes het saam met julle aan die draaiboek geskryf. Hoe het dit gewerk?

 

Bradley: “Omdat dit ons eerste vollengte draaiboek was, was Brett baie betrokke by die initial structuring en layout want hy is ’n gesoute skrywer. So ons het leiding by hom gekry oor die rhythm van ’n screenplay, en die structure.” 

 

  • Danie Bester van Film Factory is die mede-vervaardiger. Hoe het dit julle gehelp? 

Solomon: “Ons het ’n baie goeie verhouding met Danie van die Bakgat movies se dae af. Hy het ons byvoorbeeld toegelaat om ons eie dialoog vir daai karakters te skryf.” 

Bradley: “Ja, ons het al voor en agter die skerms saam met Film Factory gewerk. Ek was ook in Vaselinetjie en Ballade vir ’n enkeling en Solomon in Pad na jou hart.”

 

  • Parfuum sorg vir snaakse tonele in Frankie en Felipé? Wat is jul eie gunsteling parfuum?

Solomon: “Felipé verkoop fake perfume. Ek koop dit. Dis iets waarmee ons regtig kan relate. My gunsteling is Black Access. My vrou koop dit so een keer ’n jaar, maar andersins is ek en Felipé in dieselfde bootjie daar.” 

Bradley: “ Myne is Dunhill Desire – in die original en fake vorm. Maar ek dink Frankie is ’n Armani guy met al sy suits en fanciness. Frankie is nie so obsessed met perfume soos Felipé nie, maar dis funny dat Frankie die een is that would smell like a million dollars.”

 

  • Wat moet ons nog oor Frankie en Felipé, die speelfilm, weet?

Solomon: “Dit is ’n comedy. Dit is ’n family movie en dis ’n buddy comedy. Ons het baie fun gehad, en ek dink die audience gaan dit sien.” 

 

  • So wat wag volgende op Bradley en Solomon?

Bradley: “Ons company is tans besig met vier nuwe films. Dis verskillende genres, maar comedy is die draad wat deur almal loop. Ons wil graag ons audience ’n good time gee.”  

Solomon: “Ja, ek dink daar is nog ’n baie groot paadjie wat voorlê vir Frankie en Felipé, Spacekriek en Dakskroef, Bradley en Solomon.”

Frankie en Felipé, met Marvin Lee Beukes as regisseur, wys op Donderdag 24 Augustus om 16:30 by die fees. Dit sal vroeg volgende jaar ook in rolprentteaters te sien wees.