



Wye omvang van verlies verken in die kortfilm ‘ ’n Poppy op die heuwel’
’n Broer en suster keer terug na ’n Namakwalandse plaas om hul ouma Poppy te begrawe in die einste wêreld waar sy meer as 50 jaar van haar lewe deurgebring het, maar hulle loop hulle vas teen die maatskappy wat dit nou besit.
Aanvanklik probeer Josh (Marunzo Thomas) vir Laila (Lauren Joseph) oortuig dat hulle moet afsien van die idee om hul ouma langs haar ma te begrawe, maar Laila het ’n plan. Al beteken dit ook nou dat sy self die graaf moet opneem om vir ouma Poppy haar regmatige rusplek op te eis.
Die kortfilm ’n Poppy op die heuwel debuteer by die kykNET Silwerskermfees, wat van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad, aangebied word.
Vrae aan Winford Collings, regisseur en draaiboekskrywer
Dit voel so eg ’n mens kan amper dink dit is ’n ware verhaal. Waar kom die idee vandaan?
Die idee het ontstaan met my ma wat ’n geleentheid vir die onthulling van my ouma se grafsteen gereël het, wat ook as ’n familiebyeenkoms sou dien. Ek het gesien hoe sukkel sy om almal so ver te kry om saam te stem, en hoe swaar dit op haar gerus het. Sy het geweet sy moes dit reg doen, want sy wou my ouma se nagedagtenis gestand doen.
In ’n stadium sê Josh: “Dié is nie meer ons plek nie.” Wei asb. uit oor die temas wat aangeroer word. En hoe die geskiedenis nooit afgelê kan word nie.
Suid-Afrika se geskiedenis van grondbesitreg en grondonteiening is steeds teenwoordig in die lewens van baie families vandag. Dit word nooit werklik agtergelaat nie – dit duik net op in verskillende vorme, van geslag tot geslag. Dis hoekom dit so moeilik is om “huis”, of waar ons behoort — wat Josh “ons plek” noem – te definieer; dit voel altyd asof dit net binne en buite bereik is. In hierdie film word dit verteenwoordig deur Laila se familie se skeiding van hul voorouers se begraafplaas.
’n Poppy op die heuwel het min dialoog. Vertel van die belang van stiltes om die storie te vertel, want jy vermy selfs stemmingsmusiek.
Ek wil myself altyd uitdaag om film eerstens as ’n visuele medium te gebruik, en vas te stel waar ek die kamera tot sy volle effek kan aanwend. Soms beteken dit dat ’n enkele skoot reeds alles vasgevang het wat ’n toneel benodig, en om op daardie punt dialoog of musiek by te voeg, sou eerder afbreuk doen as waarde toevoeg.
Daar word hoofsaaklik op Laila gefokus – ’n wonderlike rol vir ’n aktrise. Wat was die proses om die aktrise te kies?
Ek het lank Suidooster gekyk en het nog altyd Lauren Joseph se werk bewonder. Ek het haar in gedagte gehad van die oomblik dat ek met die skryf van die draaiboek begin het. Ek het gevoel sy het die tipe taaiheid waarna ek soek, en die vuur in haar oë om Laila te speel. Ek was so dankbaar toe sy ingestem het om die rol te vertolk.
Jy kom nie oorspronklik uit die filmskool-geledere nie. Vertel bietjie van jou pad. En wat is volgende?
Ek het vir ’n aantal jare in finansies gestudeer en gewerk, maar wou altyd ’n skrywer wees. Ek het die draaiboek vir Adam – my eerste speelfilm, in opdrag van Showmax – op 18 geskryf, en dit is eers tien jaar later verfilm. Op ’n manier voel dit asof ek presies beland het waar ek altyd moes wees, maar toegerus met ’n paar bykomende vaardighede wat ek langs die pad geleer het. Ek het ’n produksiemaatskappy, Winnow Productions, en hoop om aan te hou films maak, wat hopelik binnekort my tweede speelfilm sal insluit.
Enigiets anders wat jy met die kykers wil deel?
Ek hoop mense wat dit kyk, kan wegstap en nadink oor hul eie rouproses. Ons fokus dikwels so daarop om die oorledene te eer, dat ons in die proses van onsself vergeet. Ek dink die film verken hoe dit lyk wanneer jy probeer om albei te doen – hoe gekompliseerd en uitdagend dit ook al mag wees.